
My kind het nie maats nie!
Die hulpkreet van menige ouer en kind die afgelope jaar. Maats het ‘n groot invloed op ‘n kind. Dit beïnvloed wat hy doen, hoe hy praat en waaraan hy onbewustelik blootgestel word. Hoe help ek my kind om die regte maats te maak?
Ouers voel dikwels magteloos en probeer dan om vir kinders voor te sê met wie hul mag speel en met wie nie.
Wanneer my kind kontak maak met die verkeerde maat – wat het hom gelok? Waarmee kan hy identifiseer in die maat of watter behoefte vul die maat?
Avontuur? Voel my kind hy word raakgesien? Waardeer? Gehoor? Laat die maat hom deel voel van ‘n groep?
Brene Brown sê die volgende: “I define connection as the energy that exists between people when they feel seen, heard, and valued; when they can give and receive without judgment; and when they derive sustenance and strength from the relationship.”
As my kind hierdie aanvaarding by ‘n maat soek voel hy dalk ek hoor, sien en aanvaar hom nie? ‘n Moeilike vraag maar baie nodig.
Op ‘n praktiese wyse, hoe kan ek my kind help?
Wanneer dit voorkom of jou kind nie maats maak soos ander kinders van sy ouderdom nie, het hy dalk leiding nodig en om sosiale vaardighede prakties te oefen. Die goeie nuus is dat ek as ouer hom hiermee kan help.
Kirsten Eastman ‘n pediatriese gedragsspesialis van Cleveland clinic, noem die volgende punte wat ouers kan probeer. https://health.clevelandclinic.org/ways-help-child-make-friends-school/
- Maak tyd om jou kind se sosiale interaksie te observeer – Wees ‘n ‘vlieg teen die muur’ / tree jou kind anders op tussen maats as by die huis?
- Waarmee sukkel jou kind? Is dit vir hom moeilik om ‘n gesprek te begin? Wil hy eerder observeer en dan deelneem aan die gesprek? Maak sosiale interaksie jou kind angstig? Blok die angstigheid sy vermoë om te sosialiseer?
Na aanleiding van jou eie observasie kan jy ‘n plan van aksie uitwerk oor hoe om jou kind te help.
Dit is baie belangrik om as ouer te onderskei of jy jou eie onsekerheid oordra of jou eie behoefte om ‘n kind te hê wat net so sosiaal is soos jy – en of jy jou kind se temperament in ag neem en objektief kan waarneem en ‘n plan van aksie kan saamstel.
Dikwels het ‘n kind net nodig om sekere sosiale vaardighede aan te leer.
- Positiewe rolspel – jou kind hou jou dop as jy met mense gesels – waar jy inkopies doen ens. Modelleer die regte gedrag – groet vriendelik en vra relevante vrae – jou kind leer meer by wat jy doen as by wat jy vir hom sê om te doen.
- Rolspel tuis – as dit vir jou kind moeilik is om ‘n gesprek te begin. Dink saam aan onderwerpe of sinne wat hy kan gebruik.
- Help jou kind om te bepaal wat hom interesseer en om maats te kies met dieselfde belangstellings. Gee dan leiding oor watter vrae om te vra – oefen dit saam met jou kind.
Ander wenke wat kan help:
As jou kind onseker of angstig is om iets nuuts te begin – gaan die eerste keer saam met hom. Gaan so bietjie vroeër en gee hom kans om dinge eers uit te kyk. Moenie jou kind kritiseer as hy eers dinge wil observeer nie – dan gaan hy verder terugtrek en sy angs en skuldgevoel gaan vermeerder. Ontmoet jou kind waar hy is en prys die klein oorwinnings. Bv “ Wow, ek het gesien jy het die maatjie eerste gegroet! Mooi man – ek is seker dit het hom baie belangrik laat voel”. Deur dit te doen bou jy die verhouding en versterk jou kind se selfbeeld en sosiale vaardighede.
Gesels met jou kind oor wat vir hom belangrik is in ‘n maatjie? Leer jou kind om dan self so ‘n maat te wees.
Help jou kind om geleenthede te skep waar hy sy sosiale vaardighede kan toets. Nooi sy maats oor, skep geleenthede waar hul kan gesels. Waak teen video-speletjies en selfoongesprekke – GEEN sosiale vaardighede word so aangeleer nie!
Moenie ‘n te groot ding hiervan maak nie, moedig jou kind aan om in homself te glo. Wys en sê vir hom dat jy in hom glo!
Moenie jou kind met jouself en ander kinders vergelyk nie, maar vier saam met hom sy unieke menswees deur positiewe erkenning en aanvaarding.
Navorsing bewys dat die vermoë om te kan sosialiseer een van die agt kernvaardighede is wat ‘n kind benodig om sukses te bereik.