connectedheartstherapy.co.za

Connected Hearts Therapy

Connected Hearts Therapy

Vakansie verveeldheid

So halfpad in die vakansie kom die stemmetjie – “Mamma ek weet nie wat om te doen nie – ek’s verveeld…”

Menige ouer sug dan en dink ‘oe die vakansie is te lank’. Naarstigtelik kyk ons wanneer open die skole weer.

Skep moed! Verveeldheid is goed! Probleemoplossing en kreatiewe denke kom in tye wat ons kinders nie weet wat om te doen nie. Wanneer ek lank genoeg vrye tyd het, kan ek my gedagtes skoonmaak en maak dit spasie vir my kreatiewe brein om in te skop.  Hiermee bedoel ek nie dat ons kinders dae aaneen alleen moet los nie, maar eerder daarteen moet waak om nie elke “vrye oomblik” te probeer vul nie.  Deur dit te doen, maak jy hul brein lui.  Kinders moet leer om self kreatief aan iets te dink. Miskien kan daar ‘n paar leë bokse en verf beskikbaar wees … of sand …

Kobus Neethling praat van kreatiewe probleemoplossing. Om buite die boks te kan dink – nuwe goed uit te dink. Hiermee stimuleer ek my kind se denke om planne te kan maak en beter probleemoplossing te kan doen. My kind leer ook ‘n baie goeie eienskap saam met dit om eienaarskap te neem vir myself. Verantwoordelikheid te neem vir my tyd. Ek kan self aan ‘n plan dink en is nie afhanklik van ouers om dit vir my te doen nie – dit bemagtig ook my kind.

Verveeldheid speel dus ‘n baie belangrike rol in my kind se emosionele groei as ek dit toelaat en nie net inspring en hom help nie!

My kind leer ook om ‘content’ te wees. Tevrede met wat hy het. Om die beste te maak met wat voor hom is – dit is ‘n goue reël vir sukses. As my kind verantwoordelikheid aanvaar vir sy eie denke, sy eie tyd en kreatief ‘n plan kan maak met wat hy het – is hy goed oppad na sukses!

Liewe ouer – dit gaan van jou vra om genadig te wees. Om nie sy planne dadelik in die kiem te smoor oor dit dalk van jou vra om die verf of bokse te gaan soek en jy nie lus is nie. Staan op, klim uit jou gemaksone en speel saam – gun jou kind ‘n groei geleentheid. Moedig hom aan – wees ‘n goeie ‘cheer leader’. Nie die leier nie – die ‘cheer leader’!

Kobus Neethling praat van ‘living above the line’. Wat beteken ek bestaan nie nie van dag tot dag nie – ek leef bo die normale lyn van geluk – omdat ek leer om aan te pas en my eie geleenthede en geluk te skep. Niemand anders kan dit vir my doen nie.  Lynne Ryan eienaar van “Do, learn and develop” skryf in haar webwerf die volgende:

Are you living above the line where you take responsibility, are accountable for your actions, and take ownership of every aspect of your life? Or do you live more below the line blaming anyone other than yourself, denying what may be difficult to accept, and making excuses for your behavior?  

Kom ons gee ons kinders die geleentheid om verveeld te wees en te groei! Speel bietjie doof vir hul klagtes en vra goeie vrae soos:

  • Wat dink jy kan jy doen?
  • As niks jou keer nie wat sou jy doen?
  • Is daar iets wat jy kan maak?
  • Kyk bietjie rond wat jy kry op die erf en wat jy daarmee kan doen?

Die geheim is om hul te begelei om self te besluit en nie net vir hul werk uit te dink nie. Pak reg jou kamer, vee die garage – net sodat hul nie weer vir ons vra nie. Haal asem, sien dit as ‘n groei geleentheid en raak kreatief!

Mag hierdie Kerstyd vir elkeen van julle ‘n ware Christusfees wees met baie kreatiewe familie tyd!

Geseënde Kersfees!

Tronel van Rooyen

Berader en spelterapeut

Scroll to Top